Afrikaans

SINGAPOER
Die lang vlug na Singapoer was darem nie heeltemal so erg as wat ek verwag het nie.  Ek kon geensins slaap op die vlug nie en het myself maar amuseer met die Kobo Reader en twee films - Alice in Wonderland en 'n Franse komedie.  Ek aanvaar dat eersgenoemde visueel meer indrukwekkend is op die groot skerm, maar op die klein skerm met die afgewaterde storielyn het dit my koud gelaat.  Dit herinner aan die Peter Pan opvolg.  Die keer is 'n ouer Alice op 'n 'quest' om die Jabberwocky te onthoof. Sy't volgens die Mad Hatter haar 'muchness' verloor.  En hoe!

Ek het 'n paar keer op en af in die gangetjie geloop saam met die ander slaaplose zombies op die vliegtuig - een keer selfs met my opblaaskussing om my nek met my kombersie wat agter my aansleep.

Singapoer lughawe is enorm - eindelose vloerspasie met meters en meters daarvan bedek met 'n volvoermat met chaotiese, abstrakte 'urban' ontwerp in skakerings van grys.  En marmervloere, watervalle, volgroeide bome - onderdak.  Dis net 'n voorsmaak van wat wag in die res van Singapoer.  Alles in Singapoer lyk of dit in die laaste tien, twintig jaar gebou is.  Elke vierkante meter lyk versorg, met enkele uitsonderings.  Die mense is oor die algemeen vriendelik en gewillig om te help en die diens is uitstekend. 

Die Chinese het 'n kortaf manier van praat.  Hulle probleem blyk soortgelyk aan die van Afrikaanssprekendes wat effe kortaf voorkom as hulle in Engels kommunikeer.  In die kleiner winkels grens die kortaf manier soms aan sarkasme, veral as mens nie bereid is om te val vir hul truuks om iets aan jou af te smeer nie!

Hier is duidelik geen tekort aan geld in Singapoer nie.  Mense leef oor die algemeen in hoe-digtheid behuising, of soos ons daarna sou verwys: duiwehokke.  Etlike miljoene word duidelik bestee aan die estetiese aspekte van die stadsgeboue.  Wat meer beindruk is dat die stad letterlik oorgroei is deur bome en digte plantegroei. Daar is selfs rankplante op die pilare van die brue op die snelweg. 

Ons het gister ook die moltrein op die proef gestel.  Te oordeel na die hoeveelheid jongmense op die moltrein, is dit hul hoof tydverdryf om heen en weer te ry op die moltrein en dan rond te hang in die "malls". 

Little India is 'n gebied in die stad wat herinner aan die Oriental Plaza in Johannesburg, met die verskil dat dit nie onderdak is nie.  Dit beslaan 'n paar straatblokke.  Op Sondagaande wemel dit van (hoofsaaklik manlike) Indiers - dis hul enigste vry dag van die week.  Die winkels het die sypaadjies ook oorgeneem, met die gevolg dat die mense in hul hordes in die strate afloop en geen plek laat vir voertuie nie.  Dit ruik en klink nes die Oriental Plaza - wierook - en kerriewalms. En nie so klinies soos die res van Singapoer nie.  En ja, ek hou daarvan.  Min Indiers in die winkels is Engels magtig.  Ek het twee Indiese bloese gekoop en wou weet of hulle nog daarvan in voorraad het.  Die ou Indier agter die toonbank het al my vrae met "Yes" geantwoord.  Ek is daar weg sonder die ekstra bloese.  Hy't duidelik nie 'n woord verstaan nie.

-----

SARAWAK
Dis ons derde dag in Sarawak.   Waar alles redelik klinies en eenvormig is in Singapoer, lyk dit taamlik chaoties en grens dit aan verwaarlosing in Sarawak, Borneo.  Dit lyk asof die infrastruktuur bloot nie behoorlik in stand gehou word nie.  Die toestand van die toilette op die lughawe in Kuching was die eerste aanduiding dat ons ons in 'n  derde wereld land bevind.  Die lughawe gebou kan ook doen met 'n laag verf.

Sarawak herinner in baie opsigte aan Suid-Afrika.  Daar is armoede gekontrasteer met ooglopende rykdom.  Daar is plekke in die stede waar rioolstelsels vrot, plaveisel gebreek is en mens maklik in 'n oop drein kan verdwyn as jy nie kyk waar jy loop nie.  Die diens is oor die algemeen goed, al is dit nie die skoonste plek op die planeet nie.


Daar is ook groot winkelsentrums met KFC, McDonalds en ander Amerikaanse kettinggroepe.  Die winkelsentrums kon net sowel enige plek in Suid-Afrika of NZ wees - so sterk is die ooreenkoms.  Die een groot verskil is dat meeste mense Asiers is.  Modebewuste jongmense hang ook in die malls rond met hul  selfone.  Hoewel dit lyk soos derdewereld, is Wifi byvoorbeeld oral beskikbaar - selfs in die mees onwaarskynlike plekke.  Ek sit op die oomblik op die bed en tik in ons chalet hier by die golf-landgoed waar ons tuisgaan.  Die badkamer laat mens se hare rys - taamlik grillerig, maar minstens is hier wifi ;-)

Ons trek redelik baie aandag.  Daar is min ander Westerlinge hier rond.  Ons het hoogstens vier ander teegekom.  Jong meisies giggel agter hul hande as ons verbyloop.  Harold het bv. hoorbaar hard sy neus in sy sakdoek geblaas in 'n winkelsentrum.  Dit het 'n jong winkelassistent in 'n onbedaarlike lagbui laat uitbars.  Volgens Harold dink Asiers dis die aaglikste ding denkbaar om iets wat uit jou neus kom, in jou sak rond te dra.  Hulle snuif en spoeg sommer op die sypaadjie.  Iets wat ons behoorlik laat gril.  So verskil die  kulture maar.  Hy dink die feit dat ek Indiese bloese dra, maar 'n Westerling is, is wat hulle vir my laat lag.  Ek het sowat vyf Indiese bloese gekoop om die hitte te oorleef.  Dalk is dit ook my haarstyl.  Meeste ouer vroue het langer hare of minstens meer konserwatiewe haarstyle.  Of dalk lyk ek maar net eienaardig vir hulle.  Finish en klaar.

Ek vind die tradisionele Sarawak kultuur baie interessant, maar nie baie toeganklik nie.  Die tradisionele drag, weefwerk en houtsneewerk prikkel my nuuskierigheid.  Ons tasse bars uit hul nate, maar ek sou graag iets daarvan wou saamneem na NZ.  Die rooi hoed is al klaar 'n probleem om oor die weg te kry.  Ek het vandag nog 'n paar klein aandenkings gekoop.  Sal eers 'n groter tas moet koop voor ek nog iets aanskaf.


----

MULU
Ons het die afgelope twee dae in 'n klein deel van die Borneo reenwoude deurgebring.  Wat 'n fantastiese ervaring!  Borneo is natuurlik die tuiste van 'head hunters', 'n feit wat my baie onrustig laat voel het.  Genadiglik het sendelinge wat hulle van die gebruik laat afsien het, ons vooruitgegaan!

Ons het hierheen gevlieg vanaf Miri - met 'n nuwe express tipe vliegtuig (met propellers) soos die wat SAL gebruik.  Die lughawegebou is klein en omring deur 'n paar huise.  'n Paar tree verder en jy bevind jou in die oerwoud.  Ons is skynbaar iets soos vier grade noord van die ewenaar hier.  Dit is uiteraard vrek warm met 'n baie hoe humiditeit.  Singapoer is slegs een graad noord van die ewenaar en heeltemal te warm vir my.

Borneo uit die lug is werklik iets om te sien.  Etlike bree bruin riviere kronkel 'n pad na die see.  Die water is blykbaar bruin as gevolg van boomwortels van die 'mangrove' woude en grond wat wegspoel waar bome  verwyder word vir die houtbedryf.  Daar is groot plantasies wat lyk of dit net uit palmbome bestaan - volgens Harold is hier 'n palm-olie bedryf.

Ons kort minibus taxi-rit vanaf die lughawe na Gunung Mulu se wereld erfenisgebied was 'n belewenis.  Die agterste sitplek waarop ons gesit het, het herhaaldelik vorentoe en agtertoe gegly tydens die rit. Die deurpanele aan die binnekant was almal af en ons moes die deur oopmaak met 'n ysterstaaf.  'n Verrotte plank dien as vloer vir die taxi.  En ons het gedink sommige SA taxis is in 'n toestand!

Ons het gister vier grotte besoek.  Die eerste twee word bereik deur 'n 'long boat' rivier op te neem.  Ons het ons tog onderbreek by 'n tradisionele dorpie op die oewer van die rivier.  Daar was 'n paar stalletjies waar ons aandenkings kon koop. 

Mense woon tradisioneel in 'long houses' wat 'n gemeenskaplike huis is wat etlike gesinne huisves.  Die honde, hoenders, kinders en katte leef in harmonie saam en herinner sterk aan die tradisionele leefwyse van SA se swart bevolking.  Die inwoners doen kralewerk, houtsneewerk en weef mandjies en materiale.  In die verlede was hulle erg bygelowig, met toordokters ens.  Dis moeilik om te raai hoeveel daarvan behoue gebly het.

Om op die rivier te vaar, is 'n besonderse ervaring.  Digte woude en kranse weerskante, met hier en daar 'n gehuggie met mense wat bad of wasgoed was in die rivier.  Ek dink nie laasgenoemde is so 'n goeie idee nie - die gebruik van seep moet 'n impak op die omgewing he.  Of dalk nie.  Dit reen meer as 200 dae per jaar hier.  Ons het op ons eerste dag so 'n swaar reenbui beleef - die reen sak net uit en reen emmers vol.  Heerlik om dan onderdak op die stoep te sit.

Die tweede stel grotte wat ons besoek het, het die "Deer cave" ingesluit.  Ek het nie woorde om te beskryf hoe enorm groot die grot is nie.  Dis die grootste ter wereld. Daar is niks waarmee ek dit kan vergelyk nie, behalwe hoe dit in 'n reisbrosjure beskryf was - dat 'n Boeing maklik daar kan invlieg.  Dis onmoontlik om dit op kamera vas te vang - ek het probeer.  Probeer dink aan die grootste grot denkbaar en maal dit dan met 'n honderd.  Dis hoe groot dit is!  Dis 'n stywe klim met honderde trappe tot by die grot, wat nogal erg kan wees in die hitte.  Ek het agterna aan hitte-uitputting gely, maar dit was beslis die moeite werd.

Daar is letterlik etlike miljoene vlermuise van 12 verskillende spesies in die grot. Die gwano (?) reuk is oorweldigend.  Ek het gelukkig 'n waslappie byderhand gehad waarmee ek my neus kon toehou :-)   Tussen 5 en 6:30 in die aand kom die miljoene vlermuise op strepe uit die grot.  Aanvanklik vlieg swerms in formasie wat herinner aan lang slange of wurms, gevolg deur 'n massa uittog van die meerderheid vlermuise. Die lang 'wurm' vorm soms in 'n spiraal/kurktrekker formasie.  Die eksodus duur ongeveer 30 minute. Die swerms 'morph' (verander van vorm) om aanvalle van valke te probeer fnuik.

Vandag herstel ek na gister se stap terwyl Harold, die 'energiser bunny'  die "forest canopy" besoek.  Ek het 'n hoofpyn oorgehou van gister se ekskursie.  Ons vlieg oor ongeveer 3 ure terug na Kuching en dan met bus/taxi na Sematan - 'n strand-oord waar ons die volgende paar dae gaan bly, voor ons weer eens terugkeer na Kuching vir die Interhash.  Dan terug op ons spore na Singapoer, Auckland en Wellington.


-----

SEMATAN
"It's not what it says on the packet" was my eerste gedagte toe ons laat-aand by die Palm Beach Resort naby Sematan aanland.  Die foto's op hul webblad stel iets heel anders voor.  Kleurvolle kayak bootjies op die strand, gemaklike sonstoele ensomeer.  Die kayaks was nerens te siene nie, die sonstoele het nie kussings nie en daar is 'n bouprojek aan die gang. Die dag ekskursies waarna die webwerf verwys vereis dat mens jou eie vervoer moet he - iets wat hulle vergeet het om te noem.

Sematan is aan die westekant van Sarawak net duskant die grens tussen Sarawak en Indonesie.  Drie lande deel die eiland van Borneo.  Die ander is Brunei, naby aan Mulu.

Om Sematan te besoek, het allermins na 'n goeie idee gelyk na ons hier aangeland het.  Ons taxi bestuurder het boonop heelpad gekla oor die lang afstand wat hy moet afle en dat hy middernag eers weer terug in Kuching gaan wees.  Die busdiens waarna verwys word op die web, bestaan skynbaar ook nie.  Mens moet 'n manier vind om op 'n ander dorp te kom vanwaar jy 'n bus kan haal - blykbaar 'n baie ou bus op die koop toe.

Soms is dit moeilik om uit te maak presies wat waar beskikbaar is hier in Sarawak - selfs al probeer jy dinge reel van aangesig tot aangesig.  Daarbenewens beweeg almal stadig in die hitte en doen alles stadig - iets waaraan ons gewoond moet raak.  Diens is oor die algemeen flinker in NZ ;-)  Ek het bietjie vergeet van SA waar dit nie baie anders is as hier nie.

Daar was heelwat wat my omgekrap het die eerste oggend - 'n getimmer en gesaag met elektriese 'grinders' is nou nie eintlik my idee van vakansiepret nie.  Na 'n kort wandeling op die strand het ons gaan afkoel in ons lugversorgde kamer.  Ek moet erken dat die badkamer in 'n heelwat beter toestand is as meeste ander oorde s'n.

Laatmiddag het ons twee fietse gehuur en die 3km na die Sematan vissersdorpie op die oop pad aangepak.  Ek was aanvanklik effe onseker op die fiets, veral omdat ons die pad met karre en motorfietse moes deel.  Dis waar wat hulle se - mens leer nie fietsry af nie.  Ons het dit terdee geniet.  Ek dink dis iets wat ons beslis in NZ moet begin doen.

Op die ou end het die dag heel goed afgeloop.  Ons het 'n vars 'coconut' drankie geniet in die vissersdorpie en 'n paar foto's geneem.  Daar was ook 'n varsproduktemark en 'n vismark (wat nie te vars geruik het nie).  Harold het 'dragon fruit' gekoop wat herinner aan turksvy.  Dis sagter binne met kleiner pitte, maar smaak baie dieselfde.  Harold het ook 'n tipe lietsjie gekoop - gladde, dikker skil en taaier en droer aan die binnekant.  Dit smaak soos 'n kruis tussen mango en lietsjie - baie lekker.  Hulle het ook diepvet gebraaide piesangpoffertjies verkoop - heerlik, maar beslis nie verslankend nie.  Daarna weer terug na die oord met ons fietse net voor sononder.

Ons het vier ander NZers raakgeloop by die oord en aandete saam met hulle geniet.  Hulle woon in Auckland en het ook 'n paar jaar terug SA getoer.  Ons het omtrent heelaand net oor SA gepraat.  Hulle is beter ingelig as die gemiddelde Kiwi en dit was een van die min kere wat NZers my uitgevra het oor SA en nie bevooroordeeld voorgekom het nie.

Die plan was om vanoggend per boot na 'n ander kusdorpie te vaar en daarna te snorkel naby die twee eilande in die baai waar die vakansie-oord is.  Die skipper het vergeet dat die hooggety besig is om terug te trek en daar bly die boot toe hoog en droog agter op die strand toe dit tyd was om te vertrek.  'n Groot groep mans het hand bygesit om die boot in die water te probeer kry, maar niks wou werk nie.

Ons sit op die oomblik onder die waaier in die klein sitkamer/ontvangsarea en kyk na die aksie op die strand.  Hulle het iewers 'n stootskraper in die hande gekry waarmee hulle die boot nader aan die water getrek het, sodat ons gouer kan wegkom as die gety inkom.  Lyk my of die plan gaan werk.

Ons vertrek more-oggend so tienuur weer terug na Kuching - dis nou as ons die taxi-bestuurder kan oorreed om ons te kom oplaai.  Anders moet ons maar hier aftree, wat na 'n aanvaarbare opsie klink.

-----

SARAWAK / BAKO NATIONAL PARK / INTERHASH
Ek en Harold het gister besluit om die Bako Nasionale Park te besoek, instede van in Kuching rond te hang. 
Dit was ongelooflik warm by Bako - die humiditeit hoog en temperatuur 34+ grade C.  Ons het emmers vol gesweet - my klere het soos kleefplastiek aan my vasgeklou.  Die begeleide toer het 'n rit met 'n riviertaxi ingesluit en twee kort staproetes deur die woude.  Ons het heelwat te siene gekry.  Die proboscis monkeys is egter sku en ons kon slegs twee foto's neem met die kamera heeltemal ingezoom.  Dit is 'n baie interessante omgewing - ek sal myself vir ure daar kan vermaak deur net na interessante wildlewe te soek.  Harold is uitstekend met die raaksien van klein insekte en diere - dis seker wat jare se oefening in NZ se woude waar al die diere klein is, aan mens doen ;-)

Ons het laat gistermiddag - aan die einde van die Interhash 'Red Dress Run' - opgedaag.  Die pretloop is gehou vir fondsinsameling.


Die Hash House Harriers is 'n groep hardlopers wat hulself so beskryf - "A drinking club with a running problem".  Die idee is dat hulle een maal per week bymekaar kom by of naby een van die lede se huis.  Die betrokke lid moet vooraf  'n hardlooproete uitmerk met meelblom of gesnipperde papier.  Die roetes is gewoonlik in die buitewyke van 'n stad en in Wellington Hash se geval, in die heuwels van Wellington.  Na 'n uur se hardloop, is die hardlopers dan geregtig op 'n bier of twee of meer in sommige mense se geval.

Die 'probleem' met die Hash is dat enigeen kan deelneem, met die gevolg dat nie-hardlopers aansluit met die doel om te 'social' en te drink.  Te oordeel na die lywe van sommige by die Red Dress Run, is daar nogal heelwat in laasgenoemde groep.

Dis vanaand die amptelike opening van die 2010 Interhash hier in Kuching.  Harold is op sy eie daarheen en ek sit in die hotelkamer en blog opdateer.

Daar is tans 'n Funk Fest hier by die hotel wat tot middernag gaan aanhou.  Die saal waar dit plaasvind is direk onder ons venster.  My ore suis van die alleraaklige 'musiek' gebaar deur die 'tribute bands' wat hier optree.  Daar is onder andere 'n flou Amy Winehouse poging.  Sy's lankal van noot af, maar gee steeds nie moed op nie.

Dit wemel van die Moslems hier in Sarawak.  Benewens die Interhash, vermoed ek hul is nie te ingenome met die Funk Fest wat hier aan die gang is nie, want kort-kort word laasgenoemde euwel besweer deur 'n Moslem wat sing oor 'n luidspreker.  Hy is direk oorkant die rivieroewer van waar ons hotel is.  Muslim gebede en Funk Fest musiek wil net nie lekker jem nie.  Daar was nou al 'n paar pogings - almal onsuksesvol.  Vrydag is natuurlik die Moslem Sondag, so dis verstaanbaar dat hulle krapperig gaan wees oor die duiwelse geraas.

Ons was vandag by die Sarawak Cultural Village waar die verskillende inboorlinge van hierdie deel van Maleisie se huise, hul gebruike, tradisionele danse ensomeer verteenwoordig is.  Al was dit nie die ware Jakob nie, was dit steeds die moeite werd.  Die ou tradisionele dorpies wat ons tot dusver besoek het, is byvoorbeeld altyd verwaarloos en vullis le oral rond.  By die Sarawak Cultural Village is alles netjies, die tuine pragtig en word die tradisionele leefwyses so half romanties uitgebeeld.  Het my laat dink aan die Zulu tribal villages vir toeriste.  Lyk heel skaflik, maar die hedendaagse werklikheid is taamlik ver verwyder van dit wat uitgebeeld word.

Daar is baie sterk ooreenkomste tussen Sarawak en Suid-Afrika.  Uiterste rykdom en armoede.  Misdaad is 'n probleem - gewoonlik diewe wat een-een of twee-twee werk.  En hulle moor blykbaar nie sommer nie.  Hulle ry bv. met bromponies en gryp jou handsak in die verbygaan.   Een van die ouens in Harold se hardloopgroep is gister beroof van sy paspoort en bankkaarte - 'n motorfiets het van agter gekom op die sypaadjie.  Ek loop nog heeltyd en oplet aan die straatkant.

Hier is groot voorstede (hoofsaaklik Chinees) wat net soos SA se 'secure estates' lyk - met dieselfde tipe sekuriteitsheinings.  Die meerderheid mense is Maleiers en hul regeer dus die land.  Die Chinese is weer in beheer van besigheid.  Laat my dink aan die verhouding van Afrikaanse en Engelse mense in SA se vorige bedeling.  Wat die rasse aanbetref, is hier waarskynlik nie groepsgebiedwette nie, maar daar kon net sowel gewees het - die verskillende rasse bly ooglopend in verskillende woongebiede.

Benewens die gevaar dat jou goed afgevat kan word, is daar die onwelriekende reuke in die stede.  Ook maar goed mens kan nie reuke vasvang op foto's nie, want die plek kan darem vir jou plek-plek erg stink!  Daar is oral in die stad die reuk van vrot dreins - tot 'n mindere of meerdere mate.  Maar dan kom daar soms nog reuke by - soos vrot vis en ander goed wat beslis ook vrot waarvan ek die oorsprong nie kan raai nie.  My maag het al 'n paar keer in my keel kom sit.  Hier en daar is daar seker ook 'n verdwaalde durian wat dit aanhelp.  Asie is 'n volskaalse aanval op mens se sintuie.  Ook maar goed ek is nou in die hotelkamer en hoef net met geraas opgeskeep te wees.  As ek nou op straat was, was dit klam hitte, geraas en stank!

Dit is 'n baie interessante plek waarvan ek beslis meer sal wil leer.   Ons was vanmiddag net betyds om te sien hoe die oerangoetangs? gevoer word by 'n reservaat buite Kuching.  Daar was twee ma's met kleintjies en 'n mannetjie.  Iets wat opgeval het, is dat daar nie veel oordeel aan die dag gele is met die uitleg van die park nie.  Die toeskouers is in die pad van die ape wanneer hulle tussen voerplekke beweeg en dan moet die hele skare mense hardloop om uit die pad te kom, anders word hulle dalk aangeval.  As teenvoeter, waarsku die parkbestuur besoekers met foto's van gapende wonde opgedoen deur toeriste wat deur die ape gebyt is.  Taamlik stompsinnige oplossing.

-----

laaste dae in KUCHING
Harold is op die oomblik besig met sy tweede Hash run.  Ek sit in die hotel en blog opdateer en foto's laai.  Ek is bevrees die hoogtepunte van ons vakansie is nou verby - wel, ten minste vir my.

Ek voel nie juis op my gemak alleen in die strate nie, maar sal dit seker een of ander tyd alleen buite waag.  Ek wil graag nog 'n paar aandenkings en geskenkies koop.

Harold het 'n belangstelling in sokker ontwikkel en soek saans na die Hash na plekke waar dit regstreeks uitgesaai word.  Ek hoef nie in SA te wees om 'n oordosis van sokker en vuvuzelas te kry nie.  Ek dink Mulu was die enigste plek waar ons dit vrygespring het.  Ons hotel het 'n kroeg waar mens na die sokker kan gaan kyk, maar die plek word blou gerook.  Synde ek nie van rook of sokker hou nie en nie op my eie die strate in die donker wil invaar nie, is ek vasgeknyp in ons hotelkamer. 

In retrospeksie, moes ek eintlik my eie program uitgewerk het vir hierdie paar dae.  Ek het te laat daaraan gedink.  Ons het waarskynlik alreeds meer spandeer as wat ons beplan het, dus is dit maar beter om in die hotel te bly en nie nog geld op ekskursies uit te gee nie.

Ek was nie gretig om aan vandag se Hash deel te neem nie - enersyds omdat ek iets verkeerd geeet het en effe broos voel en andersyds omdat oormatige aktiwiteit in die hitte my erg laat opswel.  Om 14 ure in 'n vliegtuig te spandeer, opgeswel soos 'n Oros mannetjie, is geen grap nie.

Of ek nou daarvan hou of nie, my vakansie is vir alle praktiese doeleindes op 'n end.  Al opwinding wat nou nog oor is, is om uit te werk hoe ek alles wat ons gekoop het ingepak gaan kry.  Ons gaan terug met heelwat meer as wat ons saamgebring het.

Naskrif: Dalk is dit nou tyd om 'n entjie te gaan stap.  Die Moslems oorkant die rivier het pas 'n kakofonie van klank begin lanseer oor luidsprekers.  'n Nasale Njaaaaaaa...haaaahhahhhaaa...aaaaaa.... llaaahhh.... hhaaaah .aaa aa...a....a slaan teen ons hotelgebou vas met 'n ander deelnemer wat meedoen 'n ent verder met sy eie weergawe.  Drie kenmerke van Sarawak:  Toilette wat net 'n gat in die vloer is met 'n tuinslang langsaan (weet nie hoe presies om laasgenoemde aan te wend nie); 'n pyl teen die plafon in elk van die hotelkamers waarin ons tot dusver gebly het (dit dui aan in watter rigting jy moet bid - dis waar Mekka is, m.a.w.) en die roep tot gebed oor luidsprekers - vyf maal per dag.  Tot laaaa...haahhaa...aaa..ahaha.. ter!

NNS:  Ons hotel is so luuks dat daar selfs 'n gebedsmatjie in die kas hang.